Umuzi Kunstefees
Dorp kry sy eie ‘n kunstefees
Mpumalanga kry vanjaar tydens die wintervakansie nog ‘n kunstefees by – in Secunda.
Die Umuzi-Kunstefees, wat die gemeenskap sover moontlik gaan betrek en wat selfs van sy inkomste in plaaslike liefdadigheidsorganisasies gaan terugploeg, vind van 4 tot 7 Julie plaas.
Daar word voorsiening gemaak vir drama, woordkuns en musiek, ligte komedie en die visuele kunste. Van die land se mees geliefde akteurs en kunstenaars gaan optree, soos Lizz Meiring, Marion Holm, Neil Sandilands, Frank Opperman, Lochner de Kock, die komediant Melt Sieberhagen en nog vele meer. Die televisie-sjef Herman Lensing sal sy slag agter die potte kom wys en daar sal ook boekgesprekke wees vir die leesgieriges.
Liewe Heksie maak haar verskeining, besem en al … Om die waarheid te sê, die fees gaan sorg vir hope aktiwiteite en veilige speelplekke vir kinders. Benewens kinderproduksies en kompetisies vir skoolorkeste, is daar ook ‘n massiewe binnenshuise speelpark op die terrein en ‘n nabygeleë klimmuur van wêreldgehalte.
Die fees word gehou by Lake Umuzi – ‘n uitgestrekte verblyf-, vermaak- en sakekompleks langs ‘n meer.
Umuzi beteken “stat” in die Ndebele-tale en dit dien as inspirasie vir die kunstefees se visie: Dit wil ‘n feestelike vermaakgeleentheid vir almal in Secunda wees.
Besighede en organisasies in die dorp gaan gevra word om betrokke te raak en om die produksies te borg. Die Umuzi-Kunstefees is egter enig in sy soort omdat die inkomste uit kaartjieverkope van elke geborgde produksie na die fees namens die betrokke borg aan liefdadigheidsorganisasies in die omgewing geskenk sal word.
Secunda is naby aan ander dorpe in die suide van Mpumalanga, soos Bethal, Evander, Ermelo en Standerton, en is boonop maklik bereikbaar vanaf Middelburg en Witbank.
Die Oos-Rand is minder as ‘n uur se ry van daar, Johannesburg slegs ‘n uur en ‘n half en Pretoria twee ure, wat die fees die ideale wegbreekgeleentheid maak vir die laaste naweek van die skoolvakansie.
Daar is volop verblyf by Lake Umuzi, insluitend twee hotelle, ‘n lodge en ‘n woonwapark. Daarbenewens is daar talle gastehuise in die omgewing.
Voorsiening word ook gemaak vir feesgangers wat die rugbytoets tussen die Springbokke en Ierland wil kyk – in ‘n “Bok-park” in die familierestaurant eish!! waar die wedstryd op ‘n skerm amper so wyd soos twee rugbypale (tong in die kies) vertoon sal word. Pa het daarom geen verskoning om nie saam te kom nie.
Benewens hierdie reuse-kuierplek is daar nog agt ander eetplekke in die kompleks. ‘n Buitelugmark, kunsgalery en boekwinkel vorm ook deel van die fees.
Vir meer inligting, kontak Alma 083 657 5411